Arts and Entertainment

KAMPUS TONEEL: MEER KAF AS KORING

todayJuly 17, 2024 17 6

Background
share close

François Wiid

@wiid.francois

Innoverend. Aangrypend. Opwindend. Dít is wat ’n mens van die jaarlikse Kampus Toneel-kompetisie verwag. Na twee jaar se afwesigheid kon studente van 9 tot 12 Augustus in die Ouditorium ’n verskeidenheid tonele in lewende lywe sien. Behalwe vir Patria manskoshuis (algehele wenners) en Vergeet-My-Nie dameskoshuis (naaswenners) se topgehalte produksies, het van die ander tonele die merk heeltemal gemis. 

Die kompetisie se terugkoms is met entoesiasme onder teatergangers ontmoet. Verdere opwinding is ook deur verskeie bekende beoordelaars aangehits. Onder andere het Simoné Nortmann, bekend vir haar rolle in Vir die Voëls en 7de Laan, asook die Uitvoerende Hoof van die Nasionale Aardklop Kunstefees, Alexa Strachan, die kompetisie beoordeel. Die seremoniemeester was die Potchefstroom-kampus se eie glanspersoonlikheid, Erasmus Esterhuizen, wie se grappies oor die nuwe Showmax reeks, Sex in Afrikaans, tannies in die voorste ry laat bloos het. 

Op die Vrydagaand het die top agt finaliste die verhoog vir ʼn tweede keer aangedurf. Agter die gordyne, ʼn skreeusnaakse satire oor die uitdagende vermaaklikheidsbedryf, was sonder twyfel die gehoorgunsteling. Die produksie is deur Patria aangebied en geskryf deur prof. Pierre-André Viviers. Te danke aan die drie akteurs se dinamiese ensemblewerk, deel hulle die prys vir beste akteur. Agter die gordyne het ook die toekennings vir beste regie en dekor ingeruim. 

Vergeet-My-Nie se toneel, Jaarboek, was as die naaswenners aangekondig. Hierdie fynsinnige teks, geskryf deur Emma van der Walt, het gewissel tussen pittige dialoog en roerende openbarings oor verlies en groei. Die eenvoudige, tog gevoelvolle, toneel het oor die fluktuasies van vriendskap gehandel. Anders as die skouspelagtige Agter die Gordyne bewys Jaarboek dat ʼn mens soms meer met minder kan doen. 

Die res van die aand was die gehoor op die randjie van hul sitplek gehou, maar nie noodwendig in verwondering nie. Huis Republiek en Excelsior se sleeptoneel, Koue voete maak warm liefde, het gehandel oor ʼn eensame begrafnisondernemer wat geselsskap onder haar dooie kliënte gevind het. Die aangeplakte intrige het geen koherensie gehad nie en twee lyke wat kafoefel is inderdaad nie wat die publiek wil sien nie! 

Wanda se toneel Uit een mont (algeheel derde geplaas) het gewentel om ʼn televisieaanbieder se ineenstorting weens haar gejaag na rykdom en roem. Dit is tog nie al wat gejaagd was nie. Die afgerammelde dialoog het veroorsaak dat baie inligting verlore gegaan het. Alhoewel die boodskap “roem vergaan, maar deug bly staan” effektief oorgedra was, het die oordrewe toneelspel die skerpsinnige satire verdoesel.

Nog ʼn produksie wat sy merk gemis het, was Veritas se Diepsee, ʼn tipiese Teater van die Absurde-toneel, wat oor drie seuns op ʼn vissersbootjie gehandel het. Die skielike, kannibalistiese einde het kykers wel met baie vrae gelaat. Was dit ʼn ingewikkelde metafoor of het die dramaturg net uit inspirasie gehardloop? 

Sommige tonele was heeltemal te ambisieus met die hoeveelheid tematiek en subintriges wat hulle wou aanpak. ʼn Mens kan ook net soveel in ʼn halfuur sê. Caput en Bellatrix se toneel ʼn Brug na die sterre het in hierdie lokval getrap. Die toneel het afgespeel in ʼn distopiese wêreld geplaag deur ʼn dodelike virus (klink dit bekend?). Die skeiding tussen ryk en arm, prostitusie en regeringspropaganda was net ʼn paar van die kwessies wat hulle wou aanspreek. Die einde was ook voorspelbaar. Natuurlik, sou die held, oomblikke nadat hy en sy geliefde ʼn uitweg gevind het, sterf van die einste virus. 

Alhoewel Villagers se Erosie ʼn roerende storielyn gehad het, was dit moeilik om saam met die akteurs ʼn emosionele reis te ondergaan. Net wanneer jy as kyker die vasgevangenheid en futiliteit van die mynwerkers kon aanvoel, het die toneelhelpers soos ʼn trop olifante die verhoog bestorm om die dekor te skuif. Anders as kinders moet toneelhelpers nie gesien óf gehoor word nie. 

Dinki se toneel, Dit wat was, het gehandel oor drie vrouens wat in een man se leuens vasgevang is. Alhoewel dit ʼn goeie produksie was, raak die bekende storielyn van “die vrou wat verneuk word en hom dan vermoor” vervelig, maak nie saak hoe interessant dit aangebied word nie. 

Alhoewel die tonele nie tot almal se verwagtinge opgeleef het nie, was daar ʼn paar talentvolle akteurs en interessante konsepte. Baie van die idees het potensiaal gehad, maar moes net verder ontwikkel en verfyn word. 

Was al die tonele innoverend, aangryppend en opwindend? Dalk nie. Maar een ding wat dit beslis nie was nie, was vervelig. 

 

Written by: Wapad

Rate it

Post comments (0)

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


0%