PUKfm
London Calling Podcast Yana Bolder
Summer Festival Podcast Robot Heart
Electronic Trends Podcast Aaron Mills
New Year Eve Podcast Robot Heart
Techno Podcast Robot Heart
Flower Power Festival Podcast Robot Heart
Tech House Podcast Robot Heart
Winter Festival Podcast Robot Heart
François Wiid
@wiid.francois
Raaiselagtige eindes, verdoeselde betekenisse en insiggewende toneelspel – dít is wat die top drie produksies van kampustoneel 2023 op die planke gesit het. Op 19 Mei het die agt finaliste die Sanlam Ouditorium se verhoog vir ʼn laaste keer aangedurf en tot niemand se verbasing nie is Patria se produksie, Spel deur prof. Pierre-André Viviers, as die algehele wenner bekroon. Vergeet-My-Nie se produksie, Elizma en die kommies, is as die naaswenner aangewys en Ratau Lebone se produksie, Die kosmos konkel teen Markus Kritzinger, is algeheel derde geplaas. Beide van hierdie genuanseerde tekste is deur Emma van der Walt geskryf. Alhoewel die beoordelaars en sommige gehoorlede hierdie diepsinnige tonele waardeer het, was dit vir ander bo hulle vuurmaakplek.
Spel volg die gevaarlike avonture van drie vermiste seuns. Op die oog af is hulle “spel” kinderlik en speels, tog neem die toneel ʼn donker draai wanneer dit onthul word dat die seuns deel van ʼn gewelddadige bende is. Die produksie beeld op ʼn sensitiewe, tog skokkende, wyse die tragiese nagevolge van groepsdruk uit. Bowendien die treffende teks, het die energieke ensemble-spel en aangrypende regie ʼn boeiende toneel verseker.
Die familiêre universiteitsruimte en vriendskap-temas van Elizma en die kommies het veral by die studentegehoor aanklank gevind. Skakerings van Jaarboek (Vergeet-My-Nie se 2022 toneel) skyn duidelik deur in Elizma en die kommies. Tog, kry Van der Walt dit reg om hierdie jaar ʼn meer uitdagende en outentieke teks te skryf wat haar inherente begrip van menseverhoudings aantoon. Die toneelspel was ook topklas en het gewipplank tussen pittige dialoog en sensitiewe openbaringe.
Van der Walt se ander teks, Die kosmos konkel teen Markus Kritzinger, se vervlegting van skyn en waarheid het wel sommige gehoorlede verbouereer. Ten spyte van die onsekerheid waaroor die teks gehandel het, was die dinamiese toneelspel en skerpsinnige komedie steeds waardeer.
Veritas se klug, Die Koninglose Dans, het die gehoor behoorlik vermaak met ʼn waansinnige intrige oor ʼn koning op die aand van sy sesde troue. Alhoewel die gehoor hulself doodgelag het, was mense nie altyd seker waaroor hulle gelag het nie. Die storielyn was ʼn holderstebolder reis met meer as een kinkel in die kabel.
Waiting for Eskom, aangebied deur De Wilgers, het oor twee studente wat die al te bekende kragonderbreking moes aandurf, gehandel. Daar was wel nie veel van ʼn storielyn te vinde nie, maar dit is weens die toespeling op die bekende Teater van die Absurde toneel, Waiting for Godot – ʼn toneel waarin daar niks gebeur nie. Alhoewel De Wilgers se produksie nie die somber eksistensialistiese temas oor die betekenisloosheid van die lewe aandurf nie, kon die gehoor wel hulself vereenselwig met die frustrasie en kranksinnigheid wat Eskom veroorsaak.
Hierdie jaar se kampustoneelkompetisie het opwindende en innoverende produksies opgelewer. Tog, het Eikenhof se toneelstuk, Droom, en Wanda en Over de Voor se sleeptoneel, Voetspore, ongelukkig in die lokval van voorspelbaarheid getrap. Beide het oor kankerpasiënte, ʼn delikate onderwerp, gehandel. Beide Droom en Voetspore het hierdie sensitiewe inhoud met ʼn geykte storielyn hanteer: die vriendskap tussen twee pasiënte, een lewensmoeg en die ander hoopvol. Dit is natuurlik die optimis wat vir die mistroostige vriend “ʼn les moet leer” en dan aan die einde sterf. Hierdie cliché storielyn het geen emosionele trefkrag nie en is effens beledigend weens die banale wyse waarop die materiaal ondersoek is.
Die storielyn van Wag-ʼn-Bietjie se produksie, Rooi, was ook afgesaag. Die toneel het oor ʼn flambojante dramajuffrou gehandel wat as ʼn mentorfiguur optree tenoor haar drie drama studente. Soos die handboek vir voorspelbare tonele voorskryf, sterf sy ook aan die einde, en ja, hierdie keer (om by die rooimotief te pas) aan bloedkanker. Dit is ʼn jammerte dat hierdie drie produksies kanker as ʼn instrument gebruik om bejammering by die gehoor te ontlok, eerder as om die onderwerp met eerlikheid en nuanse te ondersoek.
Alhoewel sommige toneelstukke kykers met baie vrae gelaat het, is dit nie noodwendig ʼn slegte ding nie. Behalwe om vermaak te verskaf, is dit die doel van teater om jou uit te daag en van dieper insigte oor die lewe bewus te maak. Dit is altyd die vrae met uiteenlopende antwoorde wat ʼn mens werklik laat dink. So ook is dit die tonele met die subtielste openbaringe wat die kyker werklik verryk.
Written by: Wapad
Post comments (0)