Arts and Entertainment

MOMENTUM BELEGGINGS AARDKLOP: ‘N RESENSIE OOR “DIE LEWE IN ‘N DAG VAN ‘N VRUGTEVLIEG”

todaySeptember 30, 2024 29 14

Background
share close

Lente Treurnich

@lentetreurnich26

Translation follows soon

 

Met: David Viviers en Wessel Pretorius

Teks: Wessel Pretorius

Regie: Wessel Pretorius

Vervaardiger: Wessel Pretorius

 

Goggas laat baie van ons gril en is die oorsaak vir talle fobies. Maar wat as ek vir jou sê dat elke gogga hulle eie lewe, verhoudings en drome het.

 

Wessel Pretorius en David Viviers speel van 24 tot 27 September in ’n skreeusnaakse produksie waar hulle die lewensverhale van drie goggas vertel. Hierdie was ’n produksie wat ek met eerste oogopslag van die Aardklop-program besluit het om te kyk. Wat kan dan meer vermaaklik wees as twee gesoute akteurs wat maak asof hulle goggas is?

 

Hierdie ongewerwelde-trilogie, met teks en regie bemagtig deur Pretorius, vertel die stories van ’n vrugtevlieg, ’n mot en ’n spinnekop. Elkeen het hul eie unieke persoonlikhede en gaan deur hul eie beproewings. Die ambisieuse vrugtevlieg beland op die stel van Call Me by Your Name en sodoende ook op die berugte perske wat deur Timotheé Chalamet gebruik word. Die Duitse mot beland in ’n filmhuis wat gereeld deur beurtkrag geraak word. Sy raak verlief op ’n kersvlam wat P-Fanie, die eienaar, aansteek vir lig. Die depressiewe spinnekop vind selfaanvaarding in klopdans (“tap dance”) na sy stryd met alkoholisme. Hy en sy grootste klopdans-kompetisie word goeie vriende. In elk van hierdie tonele vertel die insek ook ’n parallelle mens-storie wat tot hul eie storie bydra; ’n moedelose aktrise van Secunda wat hoop in Europa gaan soek, ’n bekende bokser, sy ballerina-vrou en hul kind, en Sandra Prinsloo wat ’n voordragkompetisie beoordeel.

 

Tussendeur die skerp en dikwels vuil grappies en oordrewe rekwisietgebruik, was daar amper nie ’n oomblik van stilte in die gehoor nie. Almal het gegiggel en gelag vir die komiese absurditeit van die produksie. Wat egter méér indrukwekkend as die konsep en die teks was, was Pretorius en Viviers se absolute toewyding aan hul toneelspel. Die moeite wat hulle in hul fisiese spel gesit het was iets besonders om te sien. Teen die einde van die eerste bedryf het die sweetdruppels klaar op hul voorkoppe geglinster, só dat Viviers se wit grimering amper heeltemal verdwyn het. Dít het hulle egter nie gekeer om vir die res van die produksie hulle alles te gee nie.

 

Passie, liefde en verlies word met komedie in hierdie trilogie-produksie benader. Dis die perfekte manier om van realiteit te ontsnap en jouself vir ’n sowat ‘n uur-en-‘n-bietjie te geniet. Maak seker om uit te kyk waar hierdie duo weer hulle ongewerwelde-trilogie gaan optree!

 

Teksversorging deur Simoné de Witt

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Written by: Wapad

Rate it

Post comments (0)

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


0%