Arts and Entertainment

MOMENTUM BELEGGINGS AARDKLOP: ‘N RESENSIE OOR “HANS GEE HERKLAAS HORINGS”

todaySeptember 30, 2024 35 19

Background
share close

Lente Treurnich

@lentetreurnich26

Translation follows soon

 

Met: Tobie Conjé en Ignatius van Heerden

Regie: Tobie Cronjé

Teks: Gegrond op Rudie van Rensburg se boek, verwerk deur Henque Heymans

Vervaardiger: Leftfoot Theatre Productions

 

Het jy al ooit gewonder wat agter die skerms van ’n radiodrama-opname gebeur? Hoe trek die stemakteur sy gesig wanneer hy verskillende stemmetjies maak? Wie maak die byklanke?

 

Op 24, 25, 27 en 28 September het Tobie Cronjé en Ignatius van Heerden ’n stukkie radiodrama na die Aardklop-feesgangers gebring.

 

Cronjé se dramatiese voorlesing van Hans gee Herklaas Horings gee lewe aan die ikoniese radio-karakter Hans en ander karakters uit Rudie van Rensburg se Hans-boekreeks. Cronjé se regterhand, Van Heerden, was die produksie se “klankman”, in beheer van die vertelling se komiese byklanke.

 

In hierdie Hans-avontuur, verwerk deur Henque Heymans, hou Hans van Kraaienburg vakansie in Hermanus. Hier ontmoet hy sy vriend, Vasie, se neef, Herklaas. Herklaas is in ’n penarie: die dorp se rykste skurk, Grond Graaffwater, wil sy blyplek koop om ’n enorme hotel op te sit. Herklaas wil egter nie verkoop nie, maar Graaffwater vat nie maklik “nee” vir ’n antwoord nie. Tydens die groep se stryd met Graaffwater en sy misdaadmakers, besluit Hans dat dit tyd is dat Herklaas horings kry.

 

Cronjé se voorlesing van hierdie goedvoel, komiese verhaal het my laat voel asof ek weer ’n kind is wat net voor slaaptyd luister hoe my pa vir my boeklees. Die manier hoe hy sy stem vir elke karakter verander het, gepaard met sy storieverteltegnieke, het vir ’n vermaaklike luistertyd gesorg. Van Heerden se skreeusnaakse, tog akkurate, interpretasies van die byklanke was die kersie op die koek. Sy gebruik van verskillende voorwerpe om verskeie klanke te maak was uniek en kreatief – van die eenvoudige knak van bamboes vir ’n stoel wat breek tot ’n eiersklitser om ’n drywende kar voor te stel.

 

Bo en behalwe vir Van Rensburg se skerp grappies in die teks, het die verhouding tussen Cronjé en Van Heerden ook vir ’n paar komiese oomblikke gesorg. Al die kort interaksies, van Cronjé se ontevredenheid met Van Heerden se byklanke en tydsberekening, tot Van Heerden se hopeloosheid met Cronjé se eise, het die gehoor laat skaterlag. Dit is duidelik dat dié twee sterre van die voorlesing ’n goeie, gemaklike verhouding het.

 

Hierdie voorlesing was iets vir iemand van elke ouderdom om te geniet. Hoërskoolleerlinge, studente, nuwe ouers en hul babas, en afgetredenes het die gehoor volgesit. Na die voorlesing het almal ’n staande applous aan Cronjé en Van Heerden gegee. Die gehoor het ook na die tyd die kans gekry om Van Rensburg se Hans-boeke te koop.

 

Ek het met ’n gelukkige hart en seer maag by die lokaal uitgestap. ’n Voorlesing deur Cronjé is iets om beslis nié te mis nie.

 

Teksversorging deur Simoné de Witt

 

Foto deur Pierre Rommelaere, verskaf deur Aardklop.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Written by: Wapad

Rate it

Post comments (0)

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


0%