Arts and Entertainment

WELKOM, WIESNER!

todayOctober 14, 2024 103 16 5

Background
share close

Wilma Ernst

@_wilhelmiena_ernstig_

Translation follows soon

 

Wiesner Hechter, ‘n 22-jarige Bedryfsingenieurswese-student aan die Noordwes-Universiteit (NWU), is veel meer as net ‘n gewone student. Hy kom oorspronklik van Bloemfontein af. Sy passie vir musiek het al begin toe hy in graad 1 die kitaar en klavier bemeester het. Sy liefde vir musiek het deur die jare gegroei. In hoërskool het hy begin optree in orkeste, acapella-groepe en was deel van ‘n koor.

 

Wiesner se universiteit loopbaan het hom in 2021 na Veritas Manskoshuis geneem, deels geïnspireer deur hul indrukwekkende 2019 serenade-video wat hy tydens Covid op YouTube raak gesien het. “Toe ek in Covid-tyd sit en besluit na watter koshuis toe ek wil gaan, sien ek Veritas se Sêr-video,” sê Wiesner. Sy betrokkenheid by Veritas het drie jaar van musiek en serenades ingesluit, en in 2024 het hy die rol van band-afrigter vir Veritas Manskoshuis en Dinki Dameskoshuis se eerstejaars konsert vervul.

 

Die Ontstaan van Veervol: Die Begin van ‘n Band

 

In 2024 het ‘n groep Veritas-manne besluit om deel te neem aan Battle of the Bands. Só het die band “Veervol” ontstaan. Tot Wiesner en sy band se groot vreugde, het hulle die kompetisie gewen. Hulle het besluit om hul eie liedjie op te neem eerder as om net ‘n volgende jaar weer konserte af te rig of om as ‘n band op te breek. “

 

“Adrenalien”, die liedjie wat hulle op 30 Augustus 2024 vrygestel het, was ‘n treffer. “Dit is iets wat ons vir ewig sal hê; ons sal oor 20 jaar weer daarna kan luister,” sê Wiesner. Die liedjie handel oor die lewe as ‘n student, die soeke na liefde, en hoe jongmense soms simpel goed doen omdat hulle nie liefde verstaan nie.

 

Veervol het groot planne vir die toekoms, met optredes, soos die afgelope naweek by Snowflake en by die Oktoberfest, plus talle verdere musiek projekte in die vooruitsig. “Ons gaan aan. Die mense in Potch weet hopelik wie ons is,” vertel Wiesner.

 

Solo-drome: Mia, Jy

 

Wiesner het egter ook sy eie solo-drome. Sy eerste enkelsnit “Mia, Jy” word op 22 November 2024 vrygestel. “Ek is baie lief vir liedjies skryf en ek skryf maar vir myself,” verduidelik hy. Die idee vir die naam “Mia” het ontstaan toe hy ‘n naweek in Bloemfontein gekuier het. Sy vriend het oor sy kamermaat in Stellenbosch se hond, Mia, gepraat. “Ek het dadelik besluit, dis Mia.”

 

Wiesner sien baie uit na sy solo-loopbaan, en hy beplan om nog meer liedjies op te neem, met die doel om in 2025 ‘n EP vry te stel. Hy beskryf sy musiek as ‘n manier om sy emosies uit te laat.

 

“Ek skryf die liedjies vir myself, maar wanneer ek dit vrystel, moet dit ander mense se liedjies ook word.” Hy wil hê jongmense moet sy musiek kan ervaar en daarmee kan vereenselwig.

 

Met sy liefde vir egte Afrikaanse alternatiewe musiek en sy aansteeklike passie, is Wiesner Heckter beslis ‘n naam om dop te hou in die musiekbedryf. Sy storie, vanaf sy vroeë dae in Bloemfontein tot nou by die NWU, is ‘n inspirasie vir enigeen wat groot drome koester.

 

Teksversorging deur Simoné de Witt

Written by: Wapad

Rate it

Post comments (0)

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


0%