PUKfm
London Calling Podcast Yana Bolder
Summer Festival Podcast Robot Heart
Electronic Trends Podcast Aaron Mills
New Year Eve Podcast Robot Heart
Techno Podcast Robot Heart
Flower Power Festival Podcast Robot Heart
Tech House Podcast Robot Heart
Winter Festival Podcast Robot Heart
Wilma Ernst
@_wilhalmiena_ernstig_
“Kuns was nie veronderstel om mooi te lyk nie, dit was veronderstel om jou iets te laat voel.” Dié woorde van die skrywer Rainbow Rowell, beskryf hierdie jaar se Canvas Aksie tema ‘Perfekte Paradoks’, heel doeltreffend.
Canvas, die alombekende kunste aksie wat dié jaar deurnag plaasgevind het van die 21ste tot die 22ste Februarie, was weereens ‘n groot sukses. Die atmosfeer, wat gevul was met oordowende musiek, gaskunsenaars, dansers en aanmoedigende koshuis krete, het verseker dat daar iets vir almal was by Canvas 2025.
Alhoewel die aand vir meeste koshuise ‘n gejaag was om binne die beperkte tyd klaar te kry met hulle kunswerke, kon Wapad by ‘n paar Huis Komitee (HK) lede, verwers en toeskouers ‘n bietjie meer uitvind oor die aksie. Zak Barnard, Kunste HK van Veritas Manskoshuis, het met Wapad gesels oor sy gunsteling deel van Canvas die jaar: “Dit moet definitief die tema wees, mens kan so baie met dit doen en die wye spektrum van idees wat ons gehad het is net ongelooflik, alles kon eintlik perfek gewerk het!”
Ander slepe, soos HUIS ‘n CAtch (Huis Republiek Dames Koshuis en Caput Manskoshuis) het nie net die tema en Canvas self geniet nie, maar ook die voorbereiding vir dié kunste aksie. Jordan Bee Kruger, Klein Kunste HK van Huis Republiek Dames Koshuis, vertel dat sy dit geniet het om met haar ondervoorsitters, asook Caput Manskoshuis te werk aan die projek. “Dit was ‘n baie lekker ervaring om mense te hê wat jou al die pad ondersteun en wat bereid is om jou te help in elke aspek. Ons koshuis en sleep was definitief die beste aspek van Canvas dié jaar,” sê Kruger.
Huis Republiek Dames Koshuis en Caput Manskoshuis:
Nikola Müller, Primaria van Bellatrix Dames Dorpskoshuis, vertel oor hoe hulle sleep BEtter PArts of me (Bellatrix Dames Dorpskoshuis en Patria Manskoshuis) dié aksie aangepak het. “Beide van ons koshuise het dieselfde visie en ons wil dieselfde doel bereik. Ons het gefokus daarop om vriendskappe te bou en dit het dit maklik gemaak om saam te werk as ‘n span.”
BEtter PArts of me se uitbeelding van ’n uurglas wat aandui dat tyd uithardloop, is een van die meer gedetailleerde Canvasse dié jaar. Die agtergrond is ‘n sterrehemel wat bo sandduine dans. Müller straal met trots soos sy meer uitbrei oor wat hulle as ‘n koshuis en sleep wil hê mense in hul Canvas moet sien: “Ek wil graag hê mense moet die passie en die trots sien wat in dit ingegaan het en verseker net bietjie staan, kyk en dink ‘Wow, hierdie is ‘n ander angle, ons het nog nie so ‘n design gesien nie’.”
Bellatrix Dames Dorpskoshuis en Patria Manskoshuis:
Caleb Adams, Kunste HK van Laureus Manskoshuis, sê dat sy ervaring van dié jaar se Canvas “soveel pret” en “een vir die boeke” was. Adams vertel hoe hulle sleep, LIEwer en LAUder (Karlien Dameskoshuis en Laureus Manskoshuis) ‘n bietjie gespanne was: “Ons moes heen en weer skarrel om ons inskrywing goedgekeer te kry, maar toe ons dit op die ou einde reg kry, was dit letterlik net opdaag en verf.”
Karlien Dameskoshuis en Laureus Manskoshuis:
Veritas Manskoshuis en Wag-’n-Bietjie Dameskoshuis (WAG ek is VERlief) het dié jaar in hulle Canvas ‘n nar (jester) in ‘n paar kaarte uitgebeeld. Richard Jordaan, een van WAG ek is VERlief se verwers brei verder uit oor wat hulle Canvas probeer vertolk: “Ons tema bespreek twee belangrike aspekte; een van die laer-werkende klas wat nie besef watter impak hulle op die gemeenskap het nie, asook hoe ‘n mens na meer strewe, maar steeds voel jy nie goed genoeg nie.”
Wag-’n-Bietjie Dameskohuis en Veritas Manskoshuis:
Ander slepe soos DINK ek’s VILLief (Dinki Dames Dorpskoshuis en Villagers Mans Dorpskoshuis) het hulle Canvas ontwerp rondom “Theseus’ paradox”. Hulle idee met die ontwerp was om te verwys na die uitlopende idees rondom ‘kuns’ en wat dit eintlik beteken om te beweer dat iets ‘kuns’ is. “Kuns is heeltyd besig om te verander en deurentyd word ouer kunsstyle met nuwe kunsstyle gemeng. Kan ons dit dan steeds kuns noem of is dit ‘n nuwe konsep?” bespiegel Declin Bezuidenhout, Kunste HK lid van Villagers Mans Dorpskoshuis. Verder vertel Mizanne Fourie, Kunste HK lid van Dinki Dames Dorpskoshuis dat hulle dié jaar die vloer oopgemaak het vir eerstejaars in die koshuis om met ‘n ontwerpe voorendag te kom. “Ons het hierdie jaar ‘n eerstejaar se ontwerp gebruik. Hulle wil regtig deelneem en ek wil graag iemand gebruik wat die willingness daarvoor het.”
Dinki Dames Dorpskoshuis en Villagers Mans Dorpskoshuis:
Mienke Janse van Rensburg, Kunste HK lid van Heide Dameskoshuis, se stem was al hees toe Wapad by WILd gekHEIs (Heide Dameskoshuis en De Wilgers Manskoshuis) se Canvas ‘n draai gemaak het. “Dit is regtig baie lekker om saam met jou sleep te werk. Kunste is vir my, my grootste passie en net om te sien hoe almal hulle talente saam gebruik om hierdie produk te maak is net amazing,” het Janse van Rensburg gesê.
Kruger se gedagtes oor HUIS ‘n CAtch se finale kunswerk, is dat dit heelmoonlik “die akkuraatste” kopie is van die einlike ontwerp. “Ek wil hê mense moet dit sien as ‘n label of love, die hoeveelheid moeite wat ons ingesit het, want ek voel ons het almal so hard gewerk om dit te kry waar dit is.”
“Die tema agter ons kunswerk het ‘n mooi simboliek en dit het regtig fantasties uitgedraai,” gesels Nicolene Latimer, een van DINK ek’s VILLief se verwers.
Meer as een Canvas het dié jaar uitgestaan. Met uitbeeldings van mense, diere en ander nie-lewende voorwerpe, het elk ‘n unieke interpretasie van ‘perfekte paradoks’ weerspieël – of dit nou deur visuele kontraste, filosofiese vrae of emosionele uitbeeldings was. Van tyd wat uitloop, vryheid wat paradoksaal limiete nodig het tot persoonlike persepsie, het dié aksie gewys hoe teenstrydighede harmonieus kan saamsmelt. Canvas 2025 het bewys dat in die wêreld van kuns, paradokse nie net moontlik is nie, maar perfek.
Teksversorging deur Simoné de Witt
Written by: Wapad
Post comments (0)