Featured

VIDA E CAFFÈ: WAAR LEWE EN KOFFIE ONTMOET

todayFebruary 26, 2025 14 16

Background
share close

Wilma Ernst

@_wilhelmiena_ernstig_

 

Vida e Caffè, wat in Portugees “lewe en koffie” beteken, bring ‘n energieke en verwelkomende koffiekultuur na Potchefstroom. Die koffiekroeg maak op weeksdae reeds om 06:00 sy deure oop en sluit eers om 20:00, wat dit ‘n ideale bestemming maak vir ‘n vroeë oggend koffie voor klasse of werk begin. Vir diegene wat haastig is, bied Vida e Caffè ook ‘n drive-thru diens, wat dit gerieflik maak vir enigiemand wat op pad is en steeds hul daaglikse koffie ritueel wil geniet.

 

Indien jy egter tyd het, stel Wapad voor dat jy rustig gaan sit en die heerlike aroma van varsgemaalde koffie indrink terwyl jy ‘n oomblik ontsnap uit die gejaagde roetine van die dag.

 

Atmosfeer:

Sodra jy instap, word jy gegroet deur die warm geur van vars gebakte en vars gemaalde koffiebone, terwyl die klanke van goue ou treffers, soos ABBA en Tears For Fears, in die agtergrond speel. Die atmosfeer is ‘n kombinasie van rustigheid en energie, waar besoekers hul eie ritme kan vind—hetsy vir werk of ontspanning. Langs die dak-hoogte vensters is daar gerieflike sitplekke met toeganklike kragproppe, perfek vir studente wat op hul skootrekenaars wil werk. Vir diegene wat eerder net hul drankies wil geniet sonder enige afleiding, bied Vida e Caffè ‘n gesellige lounge-area, ingerig met sagte beige kussings en gemaklike ruglenings, wat jou amper dwing om langer te bly as wat jy beplan het. As jy verkies om buite te sit, wag daar skaduwee waar jy die oggend son kan voel terwyl jy jou eerste sluk koffie neem.

 

Die dekor skep ‘n warm en verwelkomende atmosfeer, met ryk bruin skakerings  wat sorgvuldig met moderne minimalistiese elemente gekombineer is. Die hoë vensters bring ‘n oorvloed natuurlike lig in, wat ‘n gevoel van oopheid skep—amper asof jy kan uitstrek en omhels word deur die natuur.

 

Smaak:

Tydens my besoek het ek besluit om ‘n medium warm sjokolade te vergesel met ‘n sjokolade-gevulde croissant. Die warm sjokolade was romerig en perfek gebalanseerd, glad nie oordadig soet nie, en het duidelik ‘n hoë kwaliteit kakaomengsel as basis gehad. Die croissant, kraakvars en lig, was versigtig versier met sjokolade stukkies en het my onmiddellik herinner aan die delikate gebak wat ek lank gelede in Parys ervaar het. Dit was ‘n ware bederf vir die sintuie.

 

Prys:

Hierdie heerlike uitstappie het my R84 gekos. Die medium warm sjokolade teen R47 was ongetwyfeld die geld werd en ek sal beslis terugkeer om die grootste weergawe daarvan te bestel. Die sjokolade-gevulde croissant, teen R37, is nie noodwendig iets wat ek elke dag kan bekostig nie, maar vir ‘n nou-en-dan bederf sal dit altyd hoog op my lys bly.

 

Diens:

Die diens by Vida e Caffè was vriendelik en doeltreffend. Ek was duidelik nie die enigste student wat reeds vroegoggend lus was vir iets soets nie en moes dus ‘n kort rukkie wag. Dit het egter glad nie die ervaring versuur nie. Die kelnerin was vinnig en professioneel en ek kon rustig gaan sit terwyl sy my bestelling voorberei het.

 

Na my tweede besoek aan Vida e Caffè is ek oortuig dat ek nog hier gereeld sal inloer. Dit is die perfekte wegbreekplek vir studente, of jy nou ‘n vinnige breuk nodig het tussen klasse of ‘n stil hoekie soek om vir ‘n rukkie te ontspan. Met sy heerlike drankies, gemaklike atmosfeer en uitstekende diens, is dit ‘n plek wat ek met gemak aan enigiemand kan aanbeveel.

 

Teksversorging deur Simoné de Witt

 

Written by: Wapad

Rate it

Post comments (0)

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


0%