Sport

CAPUT: DIE REIS NA DIE FINALE

todaySeptember 1, 2025 68 5

Background
share close

Abygail Smit 

@Abysmit06

 

“Speel vir die rooikat op jou bors, die broer langsaan jou en die man daar bo!” Hierdie leuse is nie net iets om die manne van Caput te motiveer voor ‘n westryd nie, maar ‘n suiwer voorbeeld van hoe trots ‘n man op sy koshuis kan wees.

 

Caput Manskoshuis is geen vreemdeling vir die finale van ons Noord-Wes Universiteit (NWU) koshuis liga nie. Meer gereeld as nie stap hulle ook weg met ‘n wen in hulle sak. Hierdie jaar was hulle reis na die finaal teen Patria Manskoshuis egter nie sonskyn en rose nie. “Ons het baie seniors verloor en in die begin van die jaar gesukkel om aan die gang te kom. Al het ons gewen, was dit met ‘n paar punte, nie soos ons gewone tellings nie,” sê Robert-Andrew “Vleis” Adshade, kaptein van Caput se eerstespan. Adshade speel al lank vir sy koshuis en dit is ‘n groot trots vir hom om as kaptein uit te draf vir Caput. Hy sien homself nie as iemand wat beheer nie, maar eerder as iemand wie sy span lei op ‘n manier wat verseker dat elke spanlid gerespekteer en ingesluit voel.

 

Alhoewel die wiele hierdie jaar lank gevat het om te draai, is Caput nou reg vir hul wedstryd teen Patria. Adshade verduidelik dat die laaste wedstryde definitief die manne se selfvertroue verbeter het. Hulle oefeninge is ook onlangs meer produktief en effektief. Só is Caput besig om voor te berei vir Patria. Die pad na finale is egter nie net die span se verantwoordelikheid nie. Die trotsheid bars deur die ruite van Caput, daarom gee elke man sy deel om te verseker die span is reg om te speel.

 

Caput Manskoshuis bestaan uit net 134 mans, maar dit maak hulle prestasies net meer indrukwekkend. Die koshuis se A-span woon ook die eerstespan se oefeninge by vir ekstra hulp en statistieke vir die afrigters. Die wat nie help op die veld nie, help deur om die eerstespan spelers kalm te hou en te verseker dat hulle geen onnodige werkies hoef te doen nie.

 

Elke lid van Caput is deel van die manne wat op die veld speel en dit kan ons sien deur hulle aanhoudende ondersteuning en trots. Hierdie jaar het die eerstespan nuwe afrigters gekry wat self ook rugby tans speel. Hulle het juis Caput gekies vir hulle trots. Alhoewel dit tyd gevat het om vertroue te bou, het die spanlede en afrigters nou ‘n goeie verband wat hulle sukses verseker. Die span word selfs vertrou om self fiks te bly as oefentye en velde ‘n probleem is. Adshade sê Caput het ‘n wen-mentaliteit, maar die wedstryd gaan verseker nie maklik wees nie. “Ons dink Patria het baie diepte in hulle span en omdat ons hulle al die jaar gewen het, gaan hulle harder speel”.

 

Hierdie wen-mentaliteit word gebou deur konstante oefening, asook sessies wat die afrigters voorgestel het die span moet hou. Die sessies is ‘n geleentheid om hobbels in die pad te voorkom en ook om dié wat presteer, uit te wys. Gelukkig het Caput meer ondersteuners as net die wat in die koshuis bly. Talle ander manskoshuise staan agter Caput vir hulle stryd teen Patria. Potchefstroom het ook groot Caput ondersteuners in die dorp, soos Arrie Nel Apteek, wat gereeld sportbande en rehydrate vir die spelers borg, asook Potch se geliefde kuierplek Music Café, wat Caput se wedstryde uitsaai en altyd die spelers vier na ‘n wen. Dit behoort ‘n aand te wees vol gees en goeie rugby.

 

Laastens wil ons lig skyn op die spesiale tradisie wat die lede van Caput beoefen voor hul laaste wedstryd vir die jaar. Die spelers kom bymekaar in die koshuis se klubhuis en die trui seremonie begin. ‘n Reeks van videos oor die ou lede van Caput, bekende rugby spelers en ouers, word vir die manne ook gewys. Hierdie tradisie is nie net ‘n baken van trots nie, maar ook om die spanlede te herinner waarvoor hulle speel: Caput. Die reis was lank, met ‘n paar kronkels in die pad, maar Caput is reg om te wys wie hulle is op die veld.

 

Plakkaat van die rugby eindstryd tussen Caput en Patria.

 

Teksversorging deur Simoné de Witt

 

Written by: Wapad

Rate it

Post comments (0)

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


0%