Arts and Entertainment

HUIL, LAG, HERHAAL: KAMPUS TONEEL DOEN DIT WEER

todayJuly 29, 2026 57

Background
share close

Maruné Nel

@muisnel14

 

Van skaterlag tot ’n hele boks snesies nat huil – dit is die ervaring wat Noordwes-Universiteit (NWU) Kampus Toneel 2026 die afgelope week gebied het. Met ’n verhoogde toegangsfooi van R40 per aand kon enige iemand teatertalent op die Potchefstroom kampus beleef. As ’n mens na die reaksie in die Sanlam-ouditorium moes kyk, was dit R40 wat vinnig sy waarde bewys het.

 

Die produksieshet gewissel tussenmanskoshuise, dameskoshuise en sleepkoshuis-samewerkings wat onder een kategorie deelgeneem het. Elke produksie het weke se werk, oefening en dekorbeplanning in ’n enkele optrede saamgevat. Die vertonings het van Maandag 20 Julie tot Donderdag 23 Julie 2026 plaasgevind. Al 28 produksies het voor ’n paneel bekende beoordelaars op die verhoog verskyn: Loraine Wheeler, Johnny Potsanyane, Righard van Jaarsveld, Lara Lourens en Matthew Smith.

 

Slegs agt toneelstukke is na die finaal bevorder, wat op Vrydag 24 Julie 2026 plaasgevind het. David Brink en Nadia Beukes het by die oorspronklike vyf beoordelaars aangesluit om die finaliste te beoordeel. Die uitgebreide beoordelaarspaneel was gepas vir ’n aand wat, volgens die wat dit bygewoon het, van die sterkste optredes van die week opgelewer het.

 

Die top agt, in volgorde van optrede, was:

  • Vasbyt – Veritas-manskoshuis
  • Skoon Gewete – Laureus-manskoshuis
  • PA – Wag-‘n-Bietjie-dameskoshuis
  • In die Stilte van die Skaduwees – Villagers-mansdagkoshuis
  • Detensie – Patria-manskoshuis
  • My Planeet – Sleep Vertoning: Heide-dameskoshuis en Patria-manskoshuis
  • Vyf – Dinki-damesdagkoshuis
  • ‘n Storie oor ‘n Koor – Kasteel-dameskoshuis

 

Kyla Prinsloo, Kunste-PK-lid vir die portefeuljes Kunsteverenigings, Sub-komitee en Privaat Studente, is geen vreemdeling vir die werk agter die skerms nie. Sy was twee jaar lank voorsitter van NWU Thalia Toneel en het self drie jaar aan Kampus Toneel deelgeneem. Verlede jaar het sy die finaal gehaal met Bellatrix dameskoshuis se enkeltoneel.

 

Volgens Prinsloo is die lys take agter die skerms feitlik eindeloos. “Ons moet beoordelaars kry, akkomodasie en etes reël, seker maak die ouditorium en tegniese span is bespreek, en toesien dat kaartjies verkoop,” sê sy. Tekste word deurgelees en goedgekeur, deelnemerslyste word gedruk en nagegaan, en moontlike probleme en oplossings word vooruit beplan sodat hulle goed voorbereid is.

 

Die tema vir vanjaar was “2026 is the new 2016” – ’n treffende keuse wat doelbewus gemaak is. “Ons het besluit op ’n tema wat nog nie onlangs gebruik is nie en wat almal sou geniet. Ons wou eerder iets vars en innoverend aanbied.”

 

Vir Prinsloo was die hoogtepunt ongetwyfeld die verskeidenheid talent wat gedurende die week ten toon gestel is. “Van hartseer tot komedie en selfs ’n bietjie bangmaak – almal se talent het ’n plek op die verhoog gehad,” sê sy. Haar raad vir volgende jaar se organiseerders en deelnemers is eenvoudig: “Beplan, beplan, beplan. Geniet dit – dis kunste. Dis gemaak om geniet te word.”

 

Een van die mense agter die skerms was Mienke Cloete, ’n NWU-student en regisseur/afrigter van Veritas-manskoshuis se Vasbyt en Vergeet-My-Nie-dameskoshuis se Beskermde Burgers. Haar rede vir die dubbele verantwoordellikheid is eenvoudig: “Ek is verlief op toneel en die kuns van storie vertel. Jy ontmoet die beste mense in die toneelwêreld.”

 

Veritas-manskoshuis en Vergeet-My-Nie-dameskoshuis se produksies was, volgens Cloete, twee heeltemal verskillende ervarings. “Beide produksies se akteurs het ongelooflik hard gewerk, maar hulle benader karakter ontwikkeling heeltemal anders,” sê sy.

 

Sy verduidelik dat die mans baie hard gewerk het om die teks foutloos te bemeester, maar meer gesukkel het met die emosionele diepte van hul rolle. Die vroue, daarenteen, was emosioneel sterk met hul karakters verbind, maar meer ontspanne oor die teks self.

 

Soos by baie verhoogproduksies, was dekor en kostuums die grootste uitdaging. “Dit is altyd ’n krisis om die regte uitrustings en dekor vir die verhoog te kry,” sê sy. “Jy wil hê die dekor moet die toneel en atmosfeer perfek ondersteun, en dit kan soms baie uitdagend wees.” Dit is waarskynlik ’n uitdaging waarmee bykans elke Kampus Toneel-produksie kan identifiseer.

 

Cloete gee erkenning aan haar span, veral die HK-lede van elke koshuis wat gehelp het om dekor te bou. Haar pa het ook gereeld ingespring waar nodig. Volgens haar was dit vir hom nooit te veel moeite om te help nie.

 

Vir Cloete is die mense die beste deel van Kampus Toneel. “Ek het deur hierdie ervaring die wonderlikste mense ontmoet. Elke persoon het op sy of haar eie manier ’n baie spesiale plek in my hart.” Haar raad aan toekomstige regisseurs en akteurs stem grootliks met Prinsloo s’n ooreen: geniet elke oomblik.

 

Jaco van der Walt, senior bestuurder by NWU Kunste, beskryf Kampus Toneel as ’n hoogtepunt op die kunste kalender. Volgens hom het die top agt se produksies die gehoor deurgaans beïndruk. “In elke stuk van die top agt word jy verras en verryk deur die toneelspel, regie, storielyn, dekor en al die verskillende tegniese aspekte,” sê hy.

 

Kampus Toneel word jaarliks deur die Studenteraad (SR) se kuns-en-kultuurportefeulje aangebied, met NWU kunste wat ondersteuning agter die skerms bied. Die wen produksie kry elke jaar die geleentheid om weer die verhoog te betree, dié keer tydens Pronk Podium by die Momentum Aardklop Nasionale Kunstefees.

 

Volgens Van der Walt bied Aardklop ’n heel ander ervaring. “Dit is nie net studente en vriende wat kom ondersteun nie. Enige iemand kan ’n kaartjie koop, en in baie gevalle sit bekende akteurs en regisseurs in die gehoor om die studenteproduksies te kyk.” Sy raad aan volgende jaar se deelnemers is prakties: “Sonder ’n sterk teks is dit baie moeilik om die top agt te haal.” Hy moedig koshuise aan om reeds nou na ’n uitstekende teks vir volgende jaar te begin soek.

 

Vanjaar se wenner het daarin geslaag om al hierdie elemente suksesvol te kombineer. Patria-manskoshuis het met hul produksie, Detensie, as Kampus Toneel 2026 se wenner weggestap.

 

Veritas-manskoshuis tydens die finaal (Oorsprong: Lisa Alberts).

 

Patria-manskoshuis voer “Detensie” op tydens die finaal (Oorsprong: NWU Kunste).

 

Teksredigering deur Kristen Welgemoed

Written by: Wapad

Rate it

Post comments (0)

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


0%