Uncategorized

TERUGBLIK NA THALIA TONEEL

todayJuly 17, 2024 3

Background
share close

Loanné Breitenbach

@viragie

Thalia Toneel se produksie, Terugblik,  het op 10 Mei op die Ouditorium se planke verskyn, na amper drie maande se oefening. Ten spyte van al die opgewondenheid, het die lengte van die stuk en die gebrek aan konteks egter die gehoor met baie vrae gelaat. 

Terugblik is ’n toneelstuk wat handel oor Elise, ’n professionele pianis, wat terugdink aan haar verlede en die slegte gebeurtenisse wat gevorm het wie sy tans is. Die liedjies wat sy speel en die voorwerpe by die klavier herinner haar aan die slegte gebeurtenisse wat haar gemotiveer  het om ’n professionele pianis te word. 

Hoewel die stuk op die planke verskyn het, sou dit as gevolg van die baie tegniese vereistes meer geslaagd wees as ’n kortfilm. Die musiek wat oor die luidsprekers speel en wat op die klavier gespeel word is veronderstel om die skeiding tussen die hede en verlede te simboliseer, maar omdat daar nie genoeg konteks vooraf verskaf is nie, was die uitvoering verwarrend vir die gehoor. 

Die karakters het wel hul rolle uitstekend vertolk. Die gebruik van twee aktrises om Elise se hede en verlede te vertolk is besonders effektief gedoen. Die karakter Manuel het ook uitgestaan. 

’n Skerm was gebruik om te vertoon wat huidige Elise sien terwyl sy op die verhoog kyk na die voorwerpe langs haar klavier. Die gehoor was met baie vrae gelaat toe die stuk binne ’n halfuur verby was. Dit is omdat baie van die gebeure wat vertoon was nie ’n aanloop gehad het nie. Die gehoor het dikwels gewonder hoe die gebeure vir Elise beїnvloed het.  Byvoorbeeld, Elise se ma, Barbara, het skielik kanker gehad, Elise was in ’n karongeluk, haar vriendin, Amanda, was skielik verlief op Fernando en sy trek selfs oorsee, maar geen diepte oor die gebeure en hul effekte is bekend nie. Dit is ook nie bekend gemaak waarom Elise in die eerste plek besig is om terug te dink aan haar verlede nie.

Ten spyte van sekere aspekte wat die vertolking van die teks kon verbeter, is dit steeds indrukwekkend dat dit deur die agtienjarige Jorandi du Plessis geskryf was, tydens haar Graad 10 jaar. Du Plessis noem dat sy gereeld vir verskeie kompetisies  soos Artium, ATKV en Eisteddfod inskryf. Sy is ook vir die afgelope drie jaar as die nasionale wenner van Op Die Planke aangewys. Du Plessis verduidelik, “Ek geniet die kompetisies, want die terugvoer wat ek kry op al my stukke help my om elke stuk te verbeter en inspireer my vir nuwe stukke.” 

Du Plessis noem dat sy op pad was om Terugblik in te skryf vir Op Die Planke, maar dat Thalia Toneel die stuk gekoop het voordat sy dit kon inskryf, “Ek was baie opgewonde toe Thalia Toneel die stuk gekoop het en het dadelik gevra of ons kan kom kyk na hul optredes. Toe hulle ’n datum bevestig vir hul eerste optrede, was ek éérs opgewonde. Ek het dadelik gesê ek skip skool daardie dag, ek gaan toneel gaan kyk!” 

Met soveel prestasie op so ’n jong ouderdom, het Du Plessis ’n vooruitsig in ’n skyfloopbaan. Du Plessis dink daaraan om na matriek tale te studeer, aangesien sy graag ’n vertaler, redigeerder en skrywer wil word en kortfilms will skryf vir TV-kanale soos KykNet. Sy verduidelik verder, “Dalk kan ek ook eendag in een van my stukke ’n karakter speel, want ek het drama ervaring en agtergrond.”

Written by: Wapad

Rate it

Post comments (0)

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


0%