Arts and Entertainment

BOURBONS: DIE IKONIESE KUIERPLEK

todayJuly 17, 2024 13

Background
share close

Leandri Viviers

In ons studentedorp bly min dinge vir lank dieselfde. Ongeveer elke vier jaar word die studente met hulle opvolgers vervang, en daarmee saam word Potchefstroom die onderwerp van radikale veranderings – nuwe modes, nuwe musiek en nuwe menings. 

Daar is egter ʼn paar konstantes waarop ’n mens kan reken. ʼn Student bly ʼn student, en deur die dekades heen is een ding seker: op die Puk is daar altyd rede vir ʼn partytjie. Op 2 Augustus 1989, het Bourbon Street, Bourbons,  amptelik sy deure geopen. Sedertdien is dié nagklub die bestemming waarin duisende nostalgiese herinneringe gemaak word en waar sorgvrye studentejare hul oorsprong vind. 

Mnr Albert Bothma, die eienaar van Bourbon Street, impliseer spottenderwys dat dit nie ál is wat hier oorsprong gevind het nie. Hy sê dat baie van die huidige studente resultate is van ʼn eerste ontmoeting in Bourbon Street. Dit was juis die gedagte agter die besigheid. “Toe ek geswot het, was daar nie werklik ʼn plek waar ʼn boy ʼn girl kon ontmoet het nie, en Bourbon Street was toe baie geslaagd,” noem Bothma.

Bourbons was die eerste studentekuierplek op die Bult. Deesdae is dit bekend vir sy nuwerwetse klubmusiek wat tot  in die oggendure talle studente vermaak, eerder as vir sy eetgoed. Dit was egter nie altyd die geval nie. Die klub het ʼn ryk geskiedenis vol verandering deur die generasies heen. 

Toe Bourbon Street net geopen het, is groot middagetes bedien. Dit was ʼn gewilde restaurant vir studente, aangesien dit naby aan die kumpus geleё is. Rondom 18:00 het die jong weermagmanne, wat opgeroep is vir diensplig, die studente van die landboukollege en die onderwyskollege rye gestaan voor die deur om na die musiekoptredes te luister. 

“Die musiek van die eighties en die nineties was nie so klub-georiёnteerd nie. Die jongmense het vreeslik lekker saamgesing en op die tafels gedans,” sê  Bothma. 

Die kuierplek spog met ʼn magdom bekende name wat al daar opgetree het. Fokofpolisiekar het hulle eerste binnelandse vertoning daar aangebied. Dozi, Karen Zoid en Robbie Wessels het ook in daardie dae gereeld die Bourbons-gehoor vermaak.

Een ding wat egter nooit verander het nie, is Bourbon Street se kenmerkende drankie – Gummy Berry Juice, beter bekend onder studente as ’n Gummy.  

Destyds het die  vinnige tempo waarteen Bourbons bier verkoop het vir Bothma oortuig om brouery in Chicago, Amerika te studeer. Só het dit gekom dat Bourbons nie nét ʼn kuierplek was nie, maar ook ʼn brouery. Dié het gelei na die ontstaan van Gummy Berry Juice. Later het Bothma die bekende Snowflake-venue gekoop om sy brouery  uit te brei. 

Die kuierplek het op ʼn stadium  sy eie koerant gehad, die Bourbon Street Journal, wat studente op hoogte gehou het van belangrike kwessies.

Die feit dat Bourbons al byna 34 jaar lank bestaan, gaan gepaard met sy eie uitdagings. Menige oud-studente is nou middeljarig en, as gevolg van Bourbons se ouderdomslimiet, is dié kuierplek nou vir hulle ontoeganklik. Bothma verduidelik dat dit ʼn groot problem is, aangesien dit dié mense is waarop Bourbons sy reputasie gebou het omdat hulle die besigheid in sy beginjare ondersteun het. “Min plekke maak voorsiening vir die feit dat hulle 2 of 3 generasies se kliёntebasis het. Dit is vir ons spesiaal, maar dit raak ʼn probleem omdat Bourbons eintlik eksklusief vir studente is,” sê Bothma.

Kompetisie en veiligheid is Bourbons se grootste bedreigings. Deur die jare het talle kuierplekke ook hulself in die area gevestig. Dit het Bourbons gedwing om hulself gereeld te vernuwe en sodoende aan die destydse, en huidige, studente se behoeftes te voldoen. Die parkeerarea voor op die Bult het mettertyd onveilig geword, maar met die implementering van sekuriteitskameras en -wagte, is die probleem onder beheer. 

Bourbon Street bly ʼn simbool van  student wees. Tye verander en die toekoms is onbekend.  Een ding is egter seker, Bourbons staan sterk op die Bult – ʼn baken van goeie herinneringe, nuwe ontmoetings en Gummy Berry Juice.

Written by: Wapad

Rate it

Post comments (0)

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


0%