Sport

VARSITYBEKER: KAARTJIES KOOP IS DIE GROOT WEDSTRYD

todayJuly 17, 2024 7

Background
share close

Jóreke Kleynhans

Die NWU-Rugbyinstituut het tydens die afgelope weke oorweldigende belangstelling in Varsitybeker-wedstryde ervaar, met kaartjies vir die wedstryde wat elke week binne enkele minute uitverkoop. Dít nadat die Fanie du Toit-stadion se kapasiteit van 3000 toeskouers tot 4000 vergroot is.

Op Woensdag, 1 Maart, het kaartjies vir die komende wedstryd teen Maties (Stellenbosch Universiteit) se verkope 15:00 geopen. Enkele minute daarna is al 4000 beskikbare kaartjies uitverkoop. Quicket-statistieke toon dat daar 12 000 unieke toestelle Woensdagmiddag die webtuiste besoek het om Varsitybeker-kaartjies te koop vir Maandagaand.

Hoewel daar kopers is wat oortollige kaartjies koop en dit dan teen ’n wins herverkoop, word die aanlyn verkope tot 5 per koper beperk. Daar is ook al sedert Woensdag kaartjies gekanselleer wat op hierdie manier herverkoop sou word.

Permanente uitbreiding van die Fanie du Toit-stadion is volgens Mervyn Taylor, NWU Rugby Bestuurder, nie op die horison nie. “Dit maak nie regtig finansieel sin om te veel uit te brei aan die stadion nie, want die uitbreiding is nodig vir maksimum 5 wedstryde per jaar. Sodra die Varsitybeker-reeks verby is, is die stadion selde vol,” noem Taylor.

’n Stadion soos die Fanie du Toit word deur die owerhede gegradeer vir toeskouerskapasiteit, dus kan die universiteit nie bepaal hoeveel kaartjies verkoop mag word nie. Hoewel daar ’n moontlikheid is om in toekomstige jare tydelike pawiljoene op te rig vir die duur van die reeks, sal dit ’n maksimum van 500 ekstra sitplekke voorsien. Dié planne is egter nog nie gefinaliseer nie en word nog net oorweeg.

Die NWU Eagles is tans bo-aan die ranglys en Maties vierde, maar Taylor meen dat dit nie kan dien as ’n bepaler van Maandagaand se uitslag nie: “Ek dink die ouens het teen Kovsies [Universiteit van die Vrystaat] baie goed gespeel, maar Maandag is ’n nuwe wedstryd. Ons moet maar die wedstryde een vir een vat en ons moet maar jol.”

Written by: Wapad

Rate it

Post comments (0)

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


0%