Arts and Entertainment

KOFFIEKROEG-KENNIS: ROOSMARYN

todayJuly 25, 2024 37 9 2

Background
share close

Nica-May van Zyl

@n.i.c.a.vz_12_

In die hartjie van Die Koelte Tuin in Paryslaan pronk die beste koffiewinkel in Potchefstroom, só bekroon deur Mooivaal Media. Tydens vanjaar se Best of Potch: Readers’ Choice Awards  is Roosmaryn as die beste koffiewinkel en ontbytplek in Potch benoem. Wapad het gaan inloer om dít op die proef te stel.

Atmosfeer

By Roosmaryn het ek ʼn aangename atmosfeer ervaar. Binne word die tafels om ʼn gasverwarmer gerangskik, wat ʼn nostalgiese herinnering van geliefdes om die kaggelvuur by my wakker gemaak het. Daar is ook plek buite om tussen die bome en rankplante te sit asook ʼn speelplek vir kinders op sintetiese gras.

Die aksentmuur vol wynname in verskillende lettertipes sê vir my dat Roosmaryn meer toertjies het om mee te spog as net hul tower-koffie. Die versierings van groen glasbottels en roosmaryn takkies uit hout gekerf maak die spasie esteties aangenaam, wat bydra tot die gesellige atmosfeer. 

Roosmaryn is geskik vir ʼn langer kuier omdat hulle ook ʼn groot kosspyskaart het. Die is anders as meeste ander koffiewinkels, waarvoor ʼn vinnige kuier of professionele afspraak meer gepas is.

Smaak

Ek het by Roosmaryn ʼn salted caramel iced coffee bestel, wat ʼn tien-uit-tien verdien. Die espresso het ʼn ryk smaak gehad, en daar was ʼn duidelike verskil tussen dié espresso en ander plekke s’n. 

Die karamel stroop het die espresso goed gekomplimenteer, maar die smaak daarvan was heel gewoon. Alhoewel ek glad nie sout in die stroop geproe het nie, was die koffie steeds uit die boonste gestaltes.   

Die beste koffiewinkel in Potch se caramel iced coffee. [Bron: Nica-May van Zyl]
Prys

My Roosmaryn koffie het my R38 uit die sak gejaag. Die koffie het geproe of dit waardig is om baie duurder te wees, daarom is R38 baie goedkoop vir só drankie. En soos ek al van te vore gesê het, enige koffie onder R50 is ʼn winskopie!

Diens

Ek is met ʼn hartlike vriendelikheid ontvang en met omgee hanteer. Die diens was baie vinnig en van goeie gehalte. Daar is gereeld by my ingeloer om seker te maak dat ek nog gemaklik is en lekker kuier.

Om op te som is Roosmaryn definitief hul nuut bekroonde titel as beste koffiewinkel in Potch werd. Hartlike diens en ʼn verwelkomende atmosfeer met tower-koffie onder R50? Werklik iets om te onthou!

Teksversorging deur Simoné de Witt

Written by: Wapad

Rate it

Post comments (0)

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


0%