Arts and Entertainment

VERGEET-MY-NIE BAZAAR

todaySeptember 1, 2025 19 1

Background
share close

Chiara Dover

@chiaradoverr

 

Daar is ‘n stereotipe wat al vir baie jare bestaan dat jong volwassenes, veral studente, altyd hulself besig hou met die vreemdste en onverwagste aktiwiteite. Vergeet-My-Nie Dameskoshuis (VMN) se jaarlikse bazaar is geen uitsondering nie. Op 14 Augustus 2025 het die Noord-Wes Universiteit (NWU) Wes-kampus gewemel met opwinding oor plaaslike musiekgroepe en die VMN spookhuis. So spontaan en onverwags as wat jong mense beskou word, is daar alhoewel ‘n reuse beplanningsproses wat bydra tot so ‘n geleentheid se sukses.

 

Wiana Botha, die Primaria van die koshuis, sowel as seniorbond-lid Marla Stear, was aan die voorpunt van die beplanning. Vanaf einde Mei het die hooforganiseerders ingespring om take, soos die projekplan, betyds af te handel, sowel as om die vermaak en stalletjies gereël te kry. In totaal was daar sowat twee en ‘n half maande se werk ingesit vir 2025 se bazaar.

 

Een ding wat waar is van enige groot projek, is dat spanwerk ‘n bepalende faktor is. Vir hierdie koshuis is dit nie ‘n uitdaging om helpende hande te kry nie. Die hoofkomitee het ander subkomitees ingespan om só die verskeie nodige aspekte, soos dekor, die spookhuis, stalletjies, bemarking en die thrift winkel, opgerig te kry. Waar as wragtig bewys hulle jaarliks dat vele hande maak ligte werk.

 

Die doelwit is eenvoudig: om soveel mense as moontlik te lok en ‘n ervaring te skep waar elkeen iets kan geniet. Volgens die organiseerders is daar vanjaar spesifiek gefokus op volhoubaarheid — dekor is aangeskaf, wat lank sal duur en hergebruik kan word om die jaarlikse koste af te skaf. Die bemarking is ook aangepas om vanjaar ‘n groter teikengehoor te bereik. “Ons probeer elke jaar ‘n stewiger fondasie bou, sodat die volgende generasie se studente kan voortbou daarop,” verduidelik die span.

 

Snaaks genoeg is dit juis die spookhuis wat baie belangstelling lok. “Ek hou glad nie daarvan om skrik gemaak te word nie, maar dit bly vir my interessant hoeveel mense opdaag om dit te ervaar en hoe baie hulle dit geniet,” sê Botha. Dit is natuurlik een groot paradoks dat ‘n bazaar, gebasseer op die idee van ‘n kerkbazaar, bekend is vir spookhuise.

 

Die aand is meer as net ‘n fondsinsamelingsgeleentheid. Dit is ‘n viering van gemeenskap en koshuisgees. Vir baie is dit hul gunstelling VMN-geleentheid, want dit bring mense saam met musiek, kos en vreugde.

 

Terwyl besoekers net die feestelikhede beleef, lê daar agter die skerms maande se harde werk en koördinasie. Die resultaat? ‘n Bazaar wat elke jaar weer studente en gaste se kalenders volmaak.

Fotos van studente by Vergeet-My-Nie bazaar. (Bron: verskaf deur Wiana Botha)

 

Teksversorging deur Simoné de Witt

 

Written by: Wapad

Rate it

Post comments (0)

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


0%